Dresden-vyf is skuldig aan waaghalsige rooftog

Vyf mans is skuldig bevind aan die opspraakwekkende roof in Dresden in Duitsland in 2019. Die diewe het uiters kosbare en geskiedkundige juwele ter waarde van 113 miljoen euro, of 2,33 miljard Namibiese dollar, gesteel uit die stad se staatsmuseum. Die polisie het baie van die juwele teruggevind, insluitend ‘n swaard met diamante, maar daar word gevrees dat die res van die geplunderde skatte nooit gevind sal word nie. Dit was ‘n noukeurig beplande rooftog. Die bende het die terrein verskeie kere besoek en hul toegangspunt vooraf voorberei. Toe, in die vroeë oggendure van 25 November 2019, het hulle ’n reuse-kragonderbreking veroorsaak en die museum binne gegaan. Almal wat skuldig bevind is, is lede van die “Remmo-stam”. Daar is verskeie familienetwerke in Duitsland wat verantwoordelik is vir georganiseerde misdaad.