DPM verkoop Tsumeb-smelter aan Chinese firma

Dundee Precious Metals het Donderdag die Tsumeb-smelter aan ‘n Chinese mynmaatskappy, Sinomine Resource Group, vir 908 miljoen Namibiese dollar in kontant verkoop. DPM sê hy het ‘n definitiewe aandeelkoopooreenkoms met ‘n filiaal van Sinomine Resource Group aangegaan vir die verkoop van sy belang in die Tsumeb-smelter. David Rae, president en hoof uitvoerende beampte van DPM, sê die verkoop is in ooreenstemming met hul strategiese doelwitte om op hul goudmynbates te fokus en hul portefeulje te vereenvoudig. “Ons is uiters trots op die belegging wat ons gemaak het om Tsumeb se bedryfs- en omgewingsprestasies te omskep in ‘n gespesialiseerde pasgemaakte smelter met ‘n hoogs geskoolde arbeidsmag,” het Rae gesê.