Don Bradman se Baggy Green kan miljoene verdien

Krieket: ’n Australiese toetspet wat die legendariese kolwer, Don Bradman, gedra het, sal na verwagting 4,7-miljoen Namibiese dollar haal wanneer dit môre in Sydney onder die hamer kom. Bradman het die gehawende Baggy Green gedra tydens Indië se toer in Australië in 1947/’48 toe hy 715 lopies teen ʼn gemiddeld van 178,75 aangeteken het, insluitend drie honderdtalle en ʼn dubbele honderdtal. Bradman het in 1948 uitgetree met ʼn wêreldrekord toetsgemiddeld van 99,94. Die gesaghebbende publikasie, Wisden, beskou hom as die beste van alle tye.