Dodetal weens vloede styg in Rwanda
Minstens 130 mense is dood nadat vloede en grondverskuiwings Rwanda se noordelike en westelike provinsies getref het. Die reën het oornag uitgesak terwyl baie mense geslaap het, wat moontlik een van die redes is waarom talle gesterf het. Rwanda se openbare uitsaaier RBA berig die aantal ongevalle sal na verwagting toeneem met die vloedwater wat steeds styg. President Paul Kagame het sy medelye betuig met mense wat deur die tragedie geraak is. Hy voeg by inwoners word tans ontruim uit hoërisikogebiede.