Dodetal styg tot 37 in Beiroet-aanval
Die minister van Gesondheid van Libanon, Firass Abiad, sê die dodetal ná ‘n Israelse lugaanval op ‘n voorstad van Beiroet het teen gister tot minstens 37 gestyg. Die sterftes sluit drie kinders en sewe vroue in. Die aanval Vrydag het byna 70 mense gewond. ‘n Senior VN-amptenaar, Rosemary Di Carlo, waarsku teen ‘n moontlike groot toename in geweld in die Midde-Ooste, wat vrese van ‘n algehele oorlog verskerp. Sy sê die streek verkeer in gevaar vir ‘n konflik wat die verwoesting wat reeds gesien word, ver kan oortref.