Dodetal styg ná migrante-boot aan Griekse kus sink

Die dodetal nadat ‘n boot met migrante langs die kus van Griekeland omgeslaan en gesink het, het tot minstens 59 gestyg. Tot dusver is 104 mense gered en na die dorp Kalamata geneem. Dit is nog nie duidelik hoeveel mense aan boord van die vaartuig was toe dit gesink het nie, so nog migrante word vermoedelik vermis. Die kuswag sê die boot was na Italië onderweg. Dit is die dodelikste boot-ongeluk langs die Griekse kus sedert die begin van die jaar. Volgens die Verenigde Nasies het sowat 72 000 vlugtelinge en migrante sover vanjaar in Italië, Griekeland, Spanje, Malta en Siprus aangekom, waarvan die meerderheid in Italië aangekom het.