Dodetal styg in Indië se drank-skandaal

Die dodetal in die jongste voorval van besmette alkohol in die suidelike staat Tamil Nadu in Indië het tot 47 gestyg. Sowat 150 mense wat aan braking, maagkrampe en diarree gely het, moes behandel word nadat hulle ʼn metanol-mengsel gedrink het wat in die Kallakurichi-distrik gemaak is. Minstens 118 mense word nog in hospitale behandel. Die polisie het vier mense gearresteer vir onwettige alkoholverkope en beslag gelê op 200 liter van die drank. Die staat het tugstappe gedoen teen tien beamptes omdat hulle dit nie voorkom het nie.