Djokovic, Nadal beur voort in Franse Ope
Tennis: Die wêreld se nommer een, Novak Djokovic van Serwië, beur voort om sy Franse Ope-titel te beskerm wanneer hy vandag in ‘n tweede ronde teen Alex Molcan te staan kom. Die Slowaak word afgerig deur Marian Vajda, wat 15 jaar met Djokovic gewerk het voordat die twee hul vennootskap ná verlede jaar se ATP-eindronde op goeie voet beëindig het. Rafael Nadal van Spanje, wat al 13 keer as kampioen uit die stryd getree het, sal teen Corentin Moutet van Frankryk speel, terwyl Nadal se landgenote Carlos Alcaraz en Albert Ramos-Vinolas die derde agtereenvolgende jaar mekaar op die kleibaan die stryd sal aansê vir ‘n plek in die derde ronde.