Dis weer chaos op Nairobi se strate

Die polisie in Kenia het vanoggend traangas afgevuur om honderde betogers uiteen te jaag wat probeer om druk op president William Ruto te hou nadat hy ‘n reeks toegewings aan betogers se eise gemaak het. Die betogings het die grootste krisis van Ruto se twee jaar aan bewind geskep en het voortgeduur – al is dit met ’n kleiner opkoms – selfs nadat die president 2,7 miljard Amerikaanse dollar aan belastingverhogings onttrek het en byna sy hele kabinet afgedank het. Die betogers eis dat Ruto uittree.