Dieseltekorte duur internasionaal voort

Internasionale analiste sê ’n volmaakte storm is besig om in globale dieselmarkte te ontvou. Raffinaderye is onder druk, en die koste daarvan is hoog, dus word voorrade uitgeput namate die koue seisoen van die Noordelike Halfrond begin. Verskaffingstekorte kan kritieke vervoernetwerke in gevaar stel. Bloomberg waarsku dat daar binne maande in byne elke streek op die planeet ‘n gevaar van ‘n dieseltekorte kan wees. Dieselvoorraad in die VSA het tot die laagste vlak gedaal sedert 1982 en daar is volgens berigte net 25 dae se voorraad oor. Dieselvoorraad in Europa is ook onder druk wat owerhede genoodsaak het om invoere vanuit Rusland op te stoot van ‘n laagtepunt van 450 000 vate per dag in September tot 600 000 vate per dag. Terwyl ‘n verlaging in die hemelhoë dieselprys in Suid-Afrika voorspel word as gevolg van die laer oliepryse en swakker Amerikaanse dollar, is dit nie bekend wat plaaslik volgende week sal gebeur nie maar voorspellings toon nie groot veranderings nie. Namibië voer sy brandstof in vanuit onder andere Suid-Afrika, Indië, Oman, Tunisië en die Verenigde Arabiese Emirate.