Die As: Bairstow dra protesganger van die veld af

Die tweede toets om die As tussen Engeland en Australië het vanoggend op ‘n ongewone noot begin toe Engeland se paaltjiewagter, Jonny Bairstow, die oorhand gekry het oor ‘n klimaatsaktivis op Lord’s in Londen. Twee betogers van Just Stop Oil het op die veld gestorm nadat Engeland die eerste boulbeurt afgestuur het, en die groep se kenmerkende oranje poeier rondgestrooi. Bairstow het een van hulle gegryp en van die veld gedra, terwyl terreinpersoneel die ander een verwyder het. ‘n Derde het nie die veld bereik nie. Die polisie het aldrie aangekeer.