Diamante: Namibië soek ook groter voordeel

President Hage Geingob sê hy neem die advies van Botswana se President Mokgweetsi Masisi in ag om ‘n groter inkomste-aandeel uit diamante wat aan De Beers verkoop is, te verkry. Masisi het onlangs gedreig dat hy die ooreenkoms sou opskort en ontvang nou 25 persent, maar sê hy sal nog verder gaan. Geingob sê nasionale hulpbronne moet in nasionale belang gebruik word maar voeg by dit is nie nasionalisering nie – net ‘n maksimum voordeel. De Beers se medevoorsitter Bruce Cleaver het egter tydens sy besoek aan Namibië volgehou dat De Beers se verhouding met al sy vennote ‘n wen-wen is en billik teenoor albei partye is. Die regering en De Beers Groep het ‘n tien-jaar verkoopsooreenkoms onderteken vir die sortering, waardering en verkope van Namdeb Holdings-diamante. Die ooreenkoms, wat in 2026 sal verval, is die langste verkoopsooreenkoms wat ooit tussen die twee vennote onderteken is.