Demokratiese senator: Betoog vreedsaam in Miami

Die Amerikaanse senator van die Demokrate, Mark Warner, het ‘n beroep op Amerikaners gedoen om vreedsaam te betoog wanneer oudpresident, Donald Trump, later vandag in die hof verskyn. Die polisie is in Miami ontplooi waar honderde Trump-aanhangers verwag word. Trump sal tereg staan op 37 aanklagte wat verband hou met die onwettige besit van geheime dokumente. Hy het dié dokumente saam met hom geneem toe hy na sy ampstermyn die Withuis verlaat het. Trump, wat aanstaande jaar weer tot President verkies wil word, ontken dat hy enigiets verkeerd gedoen het. Warner sê mense het die reg om te betoog, maar dit moet binne die wet geskied.