Dalende krokodilboere in SA wek kommer

Die Suid-Afrikaanse Krokodilbedryf-vereniging het bevestig daar is slegs 30 aktiewe krokodilboere in Limpopo, Noordwes en KwaZulu-Natal, al is dit ‘n lonende bedryf. Die krokodilhandelaar en voorsitter van die vereniging, Paul Bredenkamp, sê daar is ‘n vraag na krokodilvel en -vleis, maar boere in die bedryf het verskeie probleme. Dit sluit toegang tot kapitaal en stygende produksiekoste in. Bredenkamp beklemtoon boere moet die nodige kennis hê om sukses te behaal en hul ondernemings te onderhou.