Daar was g’n gesprek tussen Trump, Putin: Kremlin
Die Kremlin het mediaberigte ontken dat die Amerikaanse verkose president Donald Trump ‘n oproep met Russiese president Vladimir Putin gehad het, waarin hy glo Putin gewaarsku het om nie die oorlog in Oekraïne te eskaleer nie. Die oproep, waaroor die Washington Post die eerste keer Sondag berig het, het glo Donderdag plaasgevind. Trump het ook na bewering Amerika se uitgebreide militêre teenwoordigheid in Europa aan Putin genoem. Dmitri Peskov, woordvoerder van die Kremlin, sê die berigte is “suiwer fiksie” en vals nuus, en die oproep het nie plaasgevind nie. Trump se span het aan die BBC gesê hulle sal nie kommentaar lewer op die verkose president se “private oproepe” nie.