Daar was doelbewuste sabotasie by Eskom – De Ruyter

Andre de Ruyter, voormalige uitvoerende hoof van Eskom, sê die maatskappy het jare lank ‘n “volgehoue veldtog van sabotasie” beleef wat aansienlike skade, finansiële verliese en beurtkrag tot gevolg gehad het. De Ruyter het spesifieke gevalle van opsetlike sabotasie by Eskom in ‘n beëdigde verklaring blootgelê as deel van ‘n regstryd met 19 aansoekers wat daarop gemik is om beurtkrag ongrondwetlik te verklaar. De Ruyter het tien gevalle beskryf wat hy glo bewys lewer van dié sabotasie. Dit sluit onder andere, die Majuba-brand, bomdreigemente, onverklaarbare onklaarrakings by verskeie kragstasies en die feit dat 25 arrestasies in die verband gemaak is, in.