DA vermoed onraad by Koeberg

Die DA sê sy beplande oorsigbesoek aan die Koeberg-kernkragstasie in Kaapstad is onder twyfelagtige omstandighede skielik gekanselleer. Die party beweer ondanks vroeëre goedkeuring is die besoek na veiligheidsklaring geskrap. Die besoek was bedoel om te kyk na vertragings met eenheid een se terugkeer tot diens, die beplande afsluiting van eenheid twee en die hernuwing van Koeberg se lisensie, wat moontlik energie-bestendigheid kan beïnvloed. ʼn Woordvoerder van die DA, Kevin Mileham, vermoed die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, was betrokke of dis ʼn poging om vrae te vermy oor die verlenging van Koeberg se  lewensduur.