DA, EFF en IVP betuig medelye na ANC-lede se dood

Politieke partye in Suid-Afrika het meegevoel betuig ná die dood van nege ANC-lede gisteroggend in ‘n ongeluk. Hulle was op pad terug na Mpumalanga na die bekendstelling van die ANC-verkiesingsmanifes in Durban, toe die bus waarin hulle passasiers was naby Dumbe, Paulpietersburg, in die noorde van KwaZulu-Natal omgeslaan het. Die DA sê hy hoop diegene wat deur die tragedie geraak is, sal vertroosting en solidariteit vind. Die EFF sê dis belangrik om in die verkiesingstydperk empatie te toon, terwyl die IVP sê dié tragedie is ’n herinnering aan dit wat mense in hartseer tye verenig.