Cran sal weer 5G-spektrumband opveil, geen koper in Mei nie

Die Kommunikasieregulerende Owerheid van Namibië, Cran, beplan om die spektrumband vir die implementering van 5G-netwerke weer op te veil nadat geen operateur suksesvol was in die aanvanklike bod in Mei nie. Namibië beoog om sy goedgekeurde 5G-strategie te implementeer. Die spektrum sal die uitrol van beide 4G en 5G in landelike gebiede moontlik maak. Cran sê die heropveil van die 5G-spektrum dui op die Namibiese regering se verbintenis om gevorderde telekommunikasiedienste moontlik te maak en tegnologiese innovering binne die land te bevorder. Met die toekenning van die spektrum aan bekwame operateurs poog Namibië om die potensiaal van 5G vir verbeterde konnektiwiteit en doeltreffendheid te benut. Die 5G-spektrum sal teen die einde van die jaar aan suksesvolle operateurs toegeken word wat die tegnologie sal kan uitrol.