Coenie Botha kry Range Rover, huweliksertifikaat terug

Die hoof van CBI Exchange, Coenie Botha, en sy vrou Charlotte Murove, kan hulle Range Rover en huweliksertifikaat, wat deur die polisie gekonfiskeer is, terugkry. Dit is volgens ‘n hofbevel van Regter Thomas Masuku nadat die egpaar ‘n dringende aansoek in die hoërhof gebring het. Hulle wou die beslaglegging van al hulle goedere tersyde laat stel. Hulle mag egter nie die voertuig verkoop voor die saak teen hulle afgehandel is nie. Die polisie, die Bank van Namibië en ander respondente mag nie toegang kry tot die ander goedere nie, wat bewaar moet word totdat die saak afgehandel is. Dit sluit in rekenaars, hardeskywe, bankkaarte en verskeie paspoorte. Die partye is beveel om ‘n gesamentlike statusverslag voor of op 27 Mei in te dien met voorgestelde tydlyne vir die uitruil van pleitstukke en die hersieningsrekord. Die saak is uitgestel na 30 Mei vir ‘n status-verhoor. Botha en Murove word verdink van 160 miljoen Namibiese dollar se bedrog. Botha is vry op 50 000 dollar se borg en Murove, op 30 000 dollar.