Chinese man ry 35 dood oor sy egskeidingsaak

Vyf-en-dertig mense is dood en 43 beseer toe ‘n motoris opsetlik tussen mense ingejaag het by ‘n sportsentrum in die Chinese stad Zhuhai. Die 62-jarige man is aangekeer toe hy probeer vlug het. Die polisie sê hy het homself met ‘n mes gesteek en is in die hospitaal opgeneem. ‘n Voorlopige ondersoek het bevind hy was ongelukkig oor die verdeling van bates tydens sy egskeiding. Geweldsmisdaad kom selde in China voor weens streng veiligheidsmaatreëls en vuurwapenwette, maar daar is skynbaar ‘n styging in mesaanvalle. Chinese owerhede het byna 24 uur geneem om die voorval, wat Maandagaand plaasgevind het, amptelik bekend te maak.