China veroordeel VSA-beperkings op beleggings
China het beperkings veroordeel wat vandeesweek deur Amerika vasgestel is oor belegging in sensitiewe tegnologie en bygevoeg hy hou die reg voor om sy eie maatreëls in te stel. Die nuwe reëls wat deur die Tesourie aangekondig is, sal maatskappye, burgers en permanente inwoners van Amerika verbied om nuwe tegnologie-transaksies met China aan te gaan. Ingevolge ʼn uitvoerende bevel deur die Amerikaanse president, Joe Biden, in Augustus verlede jaar, sal die beperkings op 2 Januarie in werking tree. Die beperkings is gemik op beleggings rondom halfgeleiers, kunsmatige intelligensie en kwantumrekenaarwetenskap.