Chelsea het kommer oor onsekerheid na sanksies teen sy baas

Chelsea se Russiese eienaar se grootste vrees het waar geword toe die Britse regering sanksies teen hom aangekondig het. Roman Abramovich word beskou as ‘n vriend van die Russiese president, Vladimir Putin. Hy en verskeie ander sogenaamde oligarge se bates in die Verenigde Koninkryk is bevries en ‘n reisverbod is teen hulle ingestel. Dit beteken Chelsea mag nie kaartjies verkoop nie en sy handelsware-winkel moet sluit. Die Britse eerste minister, Boris Johnson, sê daar behoort geen veilige hawe te wees vir enigeen wat Moskou se inval in Oekraïne ondersteun het nie. Intussen het die klub die Britse regering gevra oor die pad vorentoe en het sy kommer uitgespreek oor die heersende onsekerheid.