Chaos duur voort in Kavango Oos skoonmaak-tender
Die tender vir die verwydering van huishoudelike afval en die leegmaak van septiese tenks by regeringskantore in Kavango Oos is in verdere chaos gedompel. Die hoërhof het ‘n aansoek deur die hersieningspaneel, om sy eie besluit om die tender aan die Sentrale Verkrygingsraad te oorhandig ter syde te stel, goedgekeur. Die tender, met ‘n beraamde waarde van 23,7 miljoen Namibiese dollar, sou geldig gewees het van 1 April verlede jaar tot 31 Maart 2025. Daar was, volgens wat berig word, reuse-ongerymdhede met die proses wat deur die streeksraad hanteer is en verskeie bieërs het beswaar aangeteken. Die paneel het toe die raad aangesê om die tender oor te neem maar het ‘n ommekeer gemaak. Dus is die tender, wat nog nie toegeken is nie, weer vertraag en kan moontlik gekanselleer word.