Buurland het tekort aan veeartse

Suid-Afrika worstel met ‘n ernstige tekort aan veeartse, wat pogings beïnvloed om dieresiektes soos bek-en-klouseer te bekamp. Die Suid-Afrikaanse Veeartsenykundige-raad het ‘n jaarlikse uittog van ongeveer 150 veeartse uit die land aangemeld. Die adjunkminister van hoër onderwys, Buti Manamela, sê in reaksie hierop die regering het ‘n bewusmakingsprogram vir veeartsenykundige beroepsvoorligting van stapel gestuur wat op skoolkinders gemik is. Hy sê die projek het ten doel om bewusmaking oor loopbane in veeartsenykunde te verhoog en meer studente te lok om die tekort aan te pak.