Bulle verlaag rang van sy Curriebeker-afrigter

Die Blou Bulle het hulle Curriebeker-afrigter, Edgar Marutlulle, se rang verlaag nadat hulle tot dusver al vier hulle wedstryde in die kompetisie verloor het. Die direkteur van rugby, Jake White, is nou in beheer van alle afrigting. White staan aan die hoof van ʼn geskommelde afrigtingspan wat die hulpafrigters Gert Smal, Hugo van As en Sean Everitt insluit. Marutlulle keer terug na die Onder-19s en Onder-20s, waar hy betrokke was voor hy hoofafrigter van die Curriebekerspan geword het. Die Bulle het hierdie seisoen nou reeds tien wedstryde in alle kompetisies verloor.