Buitelandse media soek toegang tot Gaza

Die Buitelandse Persvereniging in Jerusalem het ‘n petisie by die Israeliese hooggeregshof ingedien om onmiddellike toegang vir internasionale media tot die Gaza-strook te vra. Die vereniging sê hy het verskeie versoeke aan die Israeliese regering en weermag ingedien om toegang te verkry, maar het geen substantiewe reaksie ontvang nie. Die Palestynse gebied is sedert 7 Oktober heeltemal afgesper. Vryheid van die pers is ‘n basiese burgerreg in ‘n demokratiese samelewing, sê die vereniging in ‘n verklaring. Hulle glo ook dit is in die openbare belang om ‘n vollediger prentjie te kry van toestande binne Gaza na 10 weke van uiters beperkte en hoogs beheerde toegang.