Brittanje se kragopwekking baie groener, beste in 70 jaar

Brittanje se elektrisiteitsopwekking uit fossielbrandstof het verlede jaar gedaal tot die laagste vlak in byna 70 jaar. ‘n Ontleding op die spesialiswebblad, Carbon Brief, toon steenkool, gas en olie het 104-terawatt-uur elektrisiteit opgewek, ‘n syfer wat laas in 1957 bereik is. Elektrisiteit uit fossielbrandstof het nou met twee-derdes gedaal sedert dit in 2008 ‘n hoogtepunt bereik het, veroorsaak deur ‘n oplewing in hernubares en ‘n swakker vraag na elektrisiteit. Fossielbrandstof was verlede jaar verantwoordelik vir omtrent ‘n derde van die Verenigde Koninkryk se elektrisiteitvoorraad, wat die laagste tot nog toe is.