Britse-regering sal Wagner as terreur-organisasie verklaar
Die Verenigde Koninkryk se regering gaan die Russiese huursoldaatgroep, Wagner, as terroriste-organisasie verklaar. Dit bring mee dis onwettig om in dié land ‘n lid van die groep te wees of dit te ondersteun. ‘n Konsepbevel word vandag in die Parlement voorgelê wat ook voorsiening sal maak dat die groep se bates as terroriste-eiendom gekategoriseer word. Dit beteken die regering mag daarop beslag lê. Wagner se leier was wyle Yevgeny Prigozhin wat verlede maand in ‘n vliegongeluk dood is. Die Britse minister van Binnelandse Sake, Suella Braverman, sê Wagner is ‘n gewelddadige en vernietigende organisasie wat voortgaan om die Kremlin se politieke doelwitte te dien.