Britse Museum ontvang N$23 miljard se keramiekstukke

‘n Privaat Chinese keramiekversameling met 1 700 stukke en ‘n geraamde waarde van 23 miljard Namibiese dollar, is aan die Britse Museum geskenk, wat ‘n rekord vir Britse instellings is. Die sentrale Londense museum het aangekondig die Trustees van die Sir Percival David-stigting het die versameling permanent geskenk sodat dit aan die publiek vertoon kan word. David is in 1964 dood en was ‘n Britse sakeman met ‘n sterk belangstelling in China en die Chinese kultuur. Hy het keramiekstukke uit Europa, Japan, Hong Kong en China versamel. Sy versameling is reeds sedert 2009 aan die museum geleen.