Britse Laerhuis keur bystandsdood-wetsontwerp goed

Die Britse Laerhuis het ten gunste van ‘n wetsontwerp op bystandsdood vir Engeland en Wallis gestem, sodat die voorgestelde wetgewing na die volgende fase in die parlementêre proses kan vorder. LP’s was met 330 teen 275 ten gunste van wettige genadedood, na ‘n emosionele debat van byna vyf uur. Die wetsontwerp bepaal ʼn persoon se lewensverwagting moet korter as ses maande wees en twee onafhanklike geneeshere moet bevestig of so ʼn persoon in aanmerking kom. ‘n Regter van die Hooggeregshof moet telkens beslis wanneer iemand aansoek doen om hul lewe te beëindig.