Brent styg effe, Chinese, Amerikaanse data vertoon beter
Die prys van Brent ru-olie het die week ongeveer 1 persent hoër afgesluit, sy eerste weeklikse styging in drie weke. Dit kom nadat ekonomiese aanwysers van die wêreld se voorste twee olieverbruikers – China en die VSA – die hoop op groter vraag versterk het. Brent verhandel net onder 84 Amerikaanse dollar ‘n vat. China se nywerheidsuitset het in April op ‘n jaargrondslag met 6,7 persent gestyg namate ‘n herstel in sy vervaardigingsektor versnel het, wat dui op moontlike sterker vraag wat kom. China het ook groot stappe aangekondig om sy krisisgeteisterde eiendomsektor te stabiliseer. Onlangse Amerikaanse ekonomiese aanwysers vertoon ook beter met verbruikerspryse wat in April minder gestyg as wat verwag is, wat verwagtinge van laer rentekoerse verhoog.