Brent sak terug in aanwagting op Fed se rentekoers aankondiging
Brent verhandel op die oomblik net bo 75 Amerikaanse dollar ‘n vat, ‘n laagtepunt vir die afgelope vyf weke. Die kommoditeit het Dinsdag net meer as 5 persent verloor en amper 9 persent in die afgelope sewe dae. Beleggers wag vir die rentekoers aankondiging vandag in die VSA. Daar word gemeen daar is ‘n verwagting vir ‘n verhoging deur die Federale Reserwebank. Ontleders sê die sentiment in die oliemark bly negatief en dit wil voorkom asof beleggers al hoe meer senuweeagtig raak oor die makro-ekonomiese vooruitsigte en die implikasies daarvan vir die vraag na olie. Die Amerikaanse Federale Reserweraad sal na verwagting vandag rentekoerse met ‘n bykomende 25 basispunte verhoog om inflasie te bekamp, terwyl die Europese Sentrale Bank ook na verwagting koerse sal verhoog by sy gereelde beleidsvergadering wat môre plaasvind.