Brave Warriors-speler skuldig aan tref-en-trap

Brave Warriors-speler Edmar Kamatuka het in die Walvisbaai-landdroshof skuld beken op aanklagte van roekelose of nalatige bestuur, en die versuim om die aard van beserings en skade na ‘n ongeluk vas te stel. Hy is volgens plaaslike berigte ‘n boete opgelê. Die voorval het omstreeks vier-uur die middag op 24 Desember voor ‘n kroeg in die Tutaleni-gebied se Volstruisstraat plaasgevind. Kamatuka het ‘n motor teen hoë spoed bestuur en beheer verloor, met ‘n stilstaande voertuig gebots en voetgangers langs die pad getref, voordat hy van die toneel gevlug het. Die voetgangers, Jackson Eita en George George, is ernstig beseer en is steeds in die Walvisbaai Staatshospitaal. Kamatuka is gearresteer nadat sy pa hom uit Windhoek teruggebring het na Walvisbaai.