Brandstofprys moet daal voor smokkelary sal bedaar
Tom Alweendo, minister van myne en energie, sê polisiëring alleen sal nie die ongebreidelde brandstofsmokkelary in die noordelike deel van die land stuit solank plaaslike pryse hoog bly nie. Die misdaad het in die afgelope twee jaar skerp toegeneem tot die frustrasie van owerhede en sakelui. Die langtermyn-oplossing is slegs as Namibië eendag die brandstofprys in min of meer dieselfde reeks as Angola kan bepaal. Brandstof in Angola word deur die staat gesubsidieer wat dit baie goedkoper in die buurland maak as plaaslik. Alweendo het weer beklemtoon dat Angola se brandstof nie goedkoop is nie – dit word op dieselfde internasionale mark aangekoop. Die smokkelary is moeilik om te beheer as gevolg van die poreuse grens.