Botswana-nadoodse ondersoek sluit af

Die nadoodse ondersoek na die skietdood van drie Namibiërs en hulle Zambiese neef by die Chobe-rivier in November verlede jaar het in Botswana afgesluit. Lede van die Botswana weermag het die vier doodgeskiet, blykbaar omdat hulle stropers was. Die vier, wat vis gevang het, is ‘n totaal van 19 keer raakgeskiet. Geen wapens is op hulle gevind nie, al het lede van die weermag gesê hulle was gewapen. Namibiese polisieduikers het ook die rivier gefynkam maar kon niks vind nie. Daar is getuig dat drie olifanttande by die vier gevind is, maar daar was geen melding daarvan gemaak kort na die voorval nie. Die streekslanddros, Taboka Mopipi sal op 20 Januarie uitspraak lewer.