Borgtog-aansoek van Ace se gewese PA uitgestel
Die borgtog-aansoek van die gewese Vrystaatse premier, Ace Magashule, se voormalige persoonlike assistent, Moroadi Cholota, is tot Donderdag uitgestel. Sy het vandag die tweede keer in die Bloemfonteinse Landdroshof verskyn nadat sy verlede week uit Amerika uitgelewer is. Cholota staan tereg op aanklagte van korrupsie, geldwassery en bedrog wat verband hou met die Vrystaatse asbes-saak. Die staat betoog die 37-jarige is ‘n vlugrisiko omdat sy voorheen nie met die owerhede wou saamwerk nie. Die uitstel gee haar regspan kans om op die staat se betoog te reageer.