Boor van ReconAfrica se Naingopo-eksplorasieput effe vertraag

Brian Reinsborough, president en uitvoerende hoof van ReconAfrica, sê die boor van die Naingopo-eksplorasieput op PEL 73 in noordoos-Namibië is effe vertraag. Die boorwerk sou vroeg vandeesmaand klaar wees, maar hulle het stadiger boortempo’s in die dieper gedeelte van die Mulden-formasie teëgekom. Stywe gattoestande is ervaar tydens die stel van die omhulsel, wat vertragings in die oorspronklike skedule veroorsaak het. Reinsborough sê hulle beplan om deur Oktober te boor tot totale diepte bereik is, en sal putresultate bekend maak na deeglike ontleding. Konstruksiebedrywighede gaan volgens skedule voort om die Kambundu-eksplorasieput, of Prospect P, aan die gang te sit. Boorwerk op hierdie put sal begin na die voltooiing van die Naingopo-eksplorasieboor.