Boney M-skepper Frank Farian oorlede
Maroela Media berig die Duitse musiekvervaardiger Frank Farian, die meesterbrein agter Boney M en Milli Vanilli, is in die ouderdom van 82 oorlede, het sy familie Dinsdag gesê.
Die treffermaker, wat oor die dekades heen meer as 800 miljoen plate in samewerking met verskillende kunstenaars verkoop het, is by sy huis in Miami oorlede.
Farian, gebore Franz Reuther, het sy loopbaan as ‘n solo-musikant begin. Hy het ‘n nommereen-treffer gehaal in 1976 in Wes-Duitsland met sy weergawe van die country-treffer “Rocky”.
Farian het daarna internasionale sukses behaal met die disco-groep Boney M. Hy het die naam uitgedink en die groep saamgestel. Met treffers soos “Rivers of Babylon”, “Daddy Cool” en “Rasputin” het die groep uiteindelik 150 miljoen plate verkoop.
Farian het ‘n skandaal veroorsaak met Milli Vanilli, ‘n R&B-groep wat deur die vervaardiger saamgestel is met lipsinchroniserende dansers Fab Morvan en Rob Pilatus. Die twee het in 1990 n Grammy-toekenning ontvang vir beste nuwe kunstenaar, maar die toekenning is teruggetrek toe dit onthul is dat hulle nie self hul eie liedjies opvoer nie. Die storie is vertel in die onlangse fliek Girl You Know It’s True.
Farian het oor sy loopbaan ook saam met musikante soos Stevie Wonder, Meat Loaf en
Terence Trent D’Arby gewerk.