Boere wat sedert 2021 wag vir oesbetalings, betoog op Katima

‘n Groep bejaarde boere in die gebied van Katima Mulilo eis betaling vir mielie-oeste wat hulle reeds in 2021 aan die plaaslike meulenaar verkoop het. Die plaaslike uitsaaier berig dat die boere ‘n versoekskrif aan die goewerneur oorhandig het waarin hulle betaling van Agrillmill in die Machita-omgewing eis nadat hulle na bewering hul mielies reeds in 2021 verkoop het sonder om ooit betaling te ontvang. Hulle het die maatskappy tot Maandag gegee en sê hulle sal buite die kantore uitkamp tot hulle hul geld kry. Hulle eis ook 5 persent rente. Volgens Agrillmill se direkteur, Bernard Mbeha, is die fondse destyds deur ‘n bestuurder gesteel maar hy het bygevoeg hulle tref nou reëlings om die boere te betaal.