Boere moet aanpas, entstowwe is min

Die Namibiese Landbou-unie het sy kommer uitgespreek oor tekorte aan beskikbare entstowwe as gevolg van uitdagings by Onderstepoort in Suid-Afrika. Die meeste entstowwe wat Namibië gebruik om lewendehawe te beskerm teen sekere siektes is afkomstig vanaf Onderstepoort. Die NLU sê daar is tans geen beskikbare entstowwe in Namibië teen virussiektes wat deur vektore soos muskiete en muggies oorgedra word nie. Dit noop produsente om alternatiewe opsies te ondersoek hoe om lewendehawe teen siektes soos drie-dae-stywesiekte, bloutong en slenkdalkoors te beskerm. Die NLU sê produsente moet vektore soos muggies en muskiete bestuur deur diere te dip of bespuitingsmiddels te gebruik. Hou ook diere van laagliggende weiding af waar water voorkom en waar, veral in die nagte, muggies en muskiete se konsentrasie die hoogste is.