Blink plan om water op vlakke te voorsien
Die Kamanjab-dorpsraad het met ‘n blink plan na vore gekom. In verband met sy skuld van 3,6 miljoen Namibiese dollar aan NamWater, sal die dorpsraad vlakke van tariewe vir water instel. Skuld aan NamWater het regoor die land by plaaslike owerhede opgebou nadat die ministerie van landelike en stedelike ontwikkeling opdrag gegee het dat alle inwoners van alle gebiede toegang tot water moet hê tydens die Covid-pandemie. Dit was ongeag hulle skuldstatus en of hulle ooit in staat was om te betaal. Die dorpsraad se uitvoerende hoof Bianca Nguaiko sê hulle plan sluit in watertariewe vir uiters arm gemeenskappe wat op so manier gestruktureer is dat hulle nie agterstallig raak nie maar ook water het. Die verbruikers sal 5 000 liter gratis ontvang en sal dan ‘n tarief van tussen 75 tot 475 dollar betaal om te verhoed dat hulle agterstallig raak en dat die water heeltemal gratis is.