BIG bo-aan lys van voorstelle vir middeltermyn begroting
Die middeltermyn begroting word Maandag deur finansminister Ipumbu Shiimi gelewer. Oudergewoonte het burgerlike organisasies konsultasies uitgevoer en die top-vyf voorstelle vir Shiimi sluit in dat die basiese inkomstetoelaag dringend ingestel moet word. Die voortdurende behuising- en sanitasiekrisis is ook beklemtoon, veral in informele nedersettings en daar word gepleit vir direkte befondsing aan plaaslike owerhede. Beleggings in vroeë kinderontwikkeling sowel as die gesondheidsektor is ook broodnodig. Ondersteuning vir kwesbare jeug het ook onder die loep gekom en die organisasies sê daar is ‘n dringende behoefte aan meer voorkomende programme en ondersteuning vir jeug, insluitend dwelmmisbruik.