Biden oorweeg Aussies se versoek om Assange-vervolging te staak

Die Amerikaanse president Joe Biden sê dat hy ‘n versoek van Australië oorweeg om Amerika se pogings om WikiLeaks-stigter Julian Assange te vervolg, te laat vaar. Assange is aangekla op 17 aanklagte van spioenasie en een aanklag van rekenaarmisbruik oor WikiLeaks se publikasie van ‘n klomp geklassifiseerde Amerikaanse dokumente byna 15 jaar gelede. Assange se ondersteuners sê hy is ‘n joernalis wat Amerikaanse militêre oortredings in Irak en Afghanistan blootgelê het, en dat dit in die openbare belang was. ’n Britse hof het verlede maand beslis dat Assange nie op aanklagte van spioenasie aan die Verenigde State uitgelewer kan word nie, tensy Amerikaanse owerhede waarborg dat hy nie die doodstraf sal kry nie.