Beweerde inbrekers by SA Rugby in hegtenis
Die Gautengse polisie het twee mans in hegtenis geneem in verband met hierdie week se inbraak by SA Rugby se hoofkantoor in Kaapstad waarin vyf getekende rugbytruie, whisky en skootrekenaars gesteel is. Die inbrekers het deur ‘n venster op die grondvloer toegang gekry tot Saru-huis in Plattekloof. Kringtelevisie-beeldmateriaal wat op sosiale media gedeel is, wys hoe die twee mans om die gebou rondstap. Een van hulle het later die replika van die Webb Ellis-trofee in die hande gekry, maar dit toe gelos. Die twee mans sal in ‘n hof in Kaapstad verskyn sodra hulle aangekla word.