Betogings ruk weer Keniaanse stede

Kenia se parlement het ‘n omstrede finansiële wetsontwerp goedgekeur wat belasting opstoot, terwyl polisie en betogers weer in die strate van die hoofstad Nairobi en ander stede slaags geraak het. Die polisie het traangas en waterkanonne gebruik en ook oor die koppe van betogers geskiet om skares uiteen te jaag, terwyl betogers veiligheidsmagte met klippe gegooi het. Onlustepolisie het die parlement afgesluit terwyl wetgewers die belastingwetsontwerp bespreek het asook Staatshuis, die president se kantoor en woning. Die betogers is gekant teen belastingverhogings te midde van ‘n lewenskostekrisis, maar baie vra ook president William Ruto om uit te tree.