Betoë voor vonnisoplegging vandag in Caprivi-verhoor
Betoë voor vonnisoplegging in die sogenaamde Caprivi-hoogverraadverhoor word vandag in die hoërhof deur regter Petrus Unengu aangehoor. Die sewe mans is einde Julie skuldig bevind op aanklagte van hoogverraad, die ongemagtigde invoer van wapens in Namibië en die verskaffing en besit van wapens, die onwettige besit van ammunisie en oortredings van Namibië se immigrasiewetgewing. Die regter het tot die gevolgtrekking gekom dat dit tydens hul verhoor, wat in Junie 2014 begin het, bewys is dat die beskuldigdes van September 1998 tot Desember 2003 aan die aktiwiteite van ‘n separatistiese organisasie in die Zambezi-streek – toe bekend as die Caprivi-streek – deelgeneem het. Die sewe beskuldigdes is Progress Munuma, Shine Samuandela, Manuel Makendano, Alex Mushakwa, Frederick Ntambilwa, Hoster Ntombo en John Tembwe.