Beserings dwing Bok-stut Oosthuizen om uit te tree
Rugby: Die Springbok-stut, Coenie Oosthuizen, het sy uittrede aangekondig op die ouderdom van 35 weens nekbeserings wat hom deesdae las gee. Hy het sy beroepsloopbaan in 2008 by die Cheetahs begin en is agt jaar later na die Haaie, voor hy vier jaar lank vir Sale Sharks in Engeland gespeel het. Oosthuizen het verlede jaar teruggekeer na Durban. Hy het sy eerste van 30 toetse vir Suid-Afrika in 2012 gespeel. Volgens die afrigter van die Haaie, John Plumtree, is Oosthuizen ‘n lieflike mens en ‘n bate vir die span.