Belgiese moordenares van haar kinders, kry self genadedood

‘n Belgiese vrou wat haar vyf kinders vermoor het, is dood nadat sy 16 jaar ná die moorde genadedood versoek het. Die vrou, Genevieve Lhermitte het in 2007 haar seun en vier dogters by hul huis naby Brussel vermoor, toe hul pa nie by die huis was nie. Sy het daarna haar eie lewe probeer neem, maar dit was onsuksesvol. Sy is lewenslank tronk toe gestuur, en is in 2019 na ‘n psigiatriese hospitaal oorgeplaas. Die Belgiese owerheid het bevestig dat die 56-jarige Lhermitte oorlede is. Dit is wettig in België om genadedood toe te pas indien ‘n persoon ondraaglike fisieke en emosionele pyn verduur waar daar geen ander uitweg is nie.