Belastingbetalers kwyn, werkloses neem toe

Die Namibiese staatskas is onder erge druk. Plaaslik is daar net meer as 768 000 geregistreerde inkomste-belastingbetalers uit ‘n beraamde bevolking van 2,5 miljoen. Die Namibiese inkomste-agentskap NamRA, sê verder dat 43 persent van belastingbetalers nie hul verpligtinge nakom nie. Intussen groei informele handel plaaslik met die jongste syfers wat toon dat die bedryf 56 persent van die land se werksmag beslaan. Volgens Tangeni Shindondola van die Dynamic Informal Traders Association, groei dié sektor jaarliks met 5 persent. Terwyl die sektor nie bydra tot die staatskas nie, dra hy tog by aan die algemene ekonomie. Plaaslike werkloosheid is tans op 36 persent en die syfer word gemeet aan die hoeveelheid mense wat aktief werk soek. In Suid-Afrika het werkloosheid meer as verdubbel. In 2008 was daar 6 miljoen werkloses en teen 2021, 12,5 miljoen. Die hoeveelheid belastingbetalers in daardie land word op net meer as 6 miljoen beraam – die helfte van die werkloses.